Bloemlezing Zuid-Afrikaanse literatuur



Henk van Woerden

Een mond vol glas

Deur: Rachelle Conradie

  1. Biografiese inligting
  2. Die skrywer en skilder Henk van Woerden word in 1947 in Leiden gebore. Gedurende die jare na die Tweede Wêreldoorlog was werkloosheid hoog en heers daar `n angs vir `n atoombom. Dié beklemdheid was aanvanklik een van die sterk motiverings waarom ongeveer 44 000 Nederlanders tussen 1946-1978 hul hoop gerig het op die moontlikheid om hul geluk in Suid-Afrika te gaan beproef. In 1956 besluit ook Henk van Woerden se vader om na Suid-Afrika te emigreer en vertrek ses maande vóór die res van sy gesin. Twee weke na Henk van Woerden se negende verjaardag emigreer hy saam met sy ma, twee broers en suster vanaf Leiden na Suid-Afrika en vestig hulle aanvanklik in Pinelands, Kaapstad.

    Van Woerden word groot in apartheid Suid-Afrika. Hy beleef die opkomende nationalisme, die Republiekwording in 1961, die gedwonge uitsetting volgens die gebiedswette, die dreigende weerstand teen apartheidsregering en die moord op Verwoerd deur Demetrios Tsafendas. Hy woon saam met sy gesin in Kaapstad, gaan daar skool en ontvang later opleiding in die beeldende kunste aan die Universiteit van Kaapstad en die Michaelis-kunsskool. In Suid-Afrika het hy meestal in Afrikaans tuis kommunikeer en op skool in Engels. Tydens sy kunsstudie aan die Michaelis-kunsskool in Kaapstad ontmoet hy bekende Suid-Afrikaanse skrywers soos Jan Rabie en Breyten Breytenbach.

    Van Woerden remigreer op 22 jaar (1969) na Nederland deels vanweë die politieke omstandighede en deels om sy loopbaan as kunstenaar in Europa te gaan bevorder. Terug in Nederland het van Woerden uiters ontuis gevoel: "...in mei ’68 [keerde ik] terug naar Nederland. Ik vond dit land benauwd, het stond me tegen" (Hoogervorst 85).

    Van Woerden werk vanaf 1971 afwisselend in Nederland en Griekeland. Op die oomblik woon hy in Amsterdam waar sy kinders ook skool gaan.

    Tussen skryf en skilder het hy homself ook gevestig as fotograaf en joernalis vir die NRC-Handelsblad en het hierdeur veral bekend geword aan die Nederlandse publiek as `n kenner van Suid-Afrika.

  3. Henk van Woerden in die literêre wêreld
  4. Henk van Woerden se plek in die literêre wêreld in Suid-Afrika en Nederland is redelik prominent. Oor die algemeen word sy werk in verband gebring met Nederlandse letterkunde wat oor Suid-Afrika handel. Hy word dikwels om dieselfe kampvuur as Van Dis geplaas vanweë sy betrokkenheid by aktuele gesprekke oor Suid-Afrika en Afrikaanse letterkunde.

    Henk van Woerden verower met sy debuut, Moenie kyk nie (1993) die Geertjan Lubberhuizenprys en word genomineer vir die Libris literatuurprys. Sy tweede roman Tikoes is minder gunstig ontvang en is beskryf as "literaire krullendraaiery" (Van Kempen 1996-05-08). Van Woerden se mening hieroor is dat hy sy sintuiglike waarneming vrye teuls gegee het en dat daar passasies van improvisasie ontstaan het (Berkvens-Stevelinck 9).

    Sy onlangsste boek, Een mond vol glas —waaruit die fragment vir die bloemlesing geneem is —het groot blootstelling gekry en is wyd vertaal. Dit is genomineer vir die Generale Bank Literatuurprys 1999.`n Engelse vertaling (deur die gerenommeerde skrywer Dan Jacobson) het intussen by die uitgewery Granta verskyn. Vertalinge in die Verenigde State (Henry Holt / Metropolitan), Noorweë (Gyldendal), Spanje (Grijalbo Mondadori) en Griekenland (Kedros) het reeds verskyn. Onlangs verskyn die Duitse vertaling by Siedler Verlag (Berlyn) en `n Afrikaanse vertaling by Queillerie-Uitgewers (Kaapstad)..

    Henk van Woerden skryf sy romans in Nederlands en nie in Afrikaans nie. Die vertaling van sekere Afrikaanse woorde, taalgebruik of sê-goed verklaar hy met `n bylae agter-in. Tot dusver is slegs sy laaste roman in Afrikaans vertaal. Met die vertaling van Een mond vol glas deur Antjie Krog in 2000 het sy werk vir die eerste keer werklik aandag in Suid-Afrika ontvang. Van Woerden is onseker waarom hy besluit het om in Nederlands te skryf en dit nie self te vertaal nie. Hy dink dit is omdat hy moeilik kan inskat wie sy uiteindelike doelgroeplesers is:

    Ik weet gewoon niet. Mijn overweging om zelf mijn boeken in het Afrikaans te vertalen vertroebeld door de vraag voor wie schrijf ik dan? Voor de blanke minderheid? Voor de Kaapse kleurlingen die geen enkele boodschap aan Nederland en Nederlandse literatuur hebben? Als ik in Afrikaans sou willen schrijven zou ik moeten remigreren. Soms voel ik de opwelling overmorgen […] naar een kleurlingenwijk van Kaapstad te vertrekken en een hotel te beginnen en het volgende boek aldaar te laten afspelen. Maar […] misschien kan ik dat denkbeeldige hotel veel beter in Zuid-Teheran openen. Het volgende boek wordt dan heel wat anders (Berkvens-Stevelinck 6).

    Van Woerden skryf hoofsaaklik vir `n Nederlandse publiek, maar hoef daarvoor nie noodwendig in Nederland te bly nie. Hy vertel in dieselfde onderhoud met Berkvens-Stevelinck (5) dat hy sy skrywerskap as `n taak sien om die ingewikkelde Suid-Afrikaanse situasie vir Nederlanders insigtelik te maak. Met die vertaling van sy boeke word dit natuurlik moontlik om die ingewikkeldheid aan `n groter groep lesers te verduidelik Hy glo dat as jy niks te vertel het nie jy nie moet skryf nie. Hy druk hierdie motivering as `n soort literatuuropvatting uit in dieselfde onderhoud: "Ik schrijf gewoonweg omdat ik dat [d.w.s. dat hy iemand iets te vertel het -RC] inderdaad denkt".

  5. Henk van Woerden die kunstenaar in woord en beeld

Van Woerden se uiters beeldryke skryfwerk hou duidelik verband met sy waarneming as skilder en fotograaf. Sy skryfwerk is grootliks outobiografies en informatief —veral wat Een mond vol glas betref. In die NRC Handelsblad is Een mond vol glas beskryf as "fictie op (auto)biografische basis [...] gedocumenteerde werkelijkheid die door de verbeelding van een groot schrijver is aangeraakt en herschapen" (Etty).

`n Opmerklike kenmerk van sy werk is sy taalgebruik. Hy is al vergelyk met Adriaan van Dis se speelsheid in sy beskrywings, veral dié in Het beloofde land. `n Moontlike verklaring hiervoor is die invloed van Afrikaans op albei se werk asook beide skrywers se vertroudheid met die volkspoësie van die bruinmense en speelse gedigte soos "klipwerk" van N.P. van Wyk Louw (Glorie 1993-11-20). In vergeleke met Van Dis is Van Woerden se skilderkunstige skryf meer opmerklik. Dit is heelwaarskynlik te verklaar uit Van Woerden is intensiewe belangstelling in die visuele.

Wat sy beeldende kuns betref, stal hy vanaf 1971 sy werk gereeld uit en word dit word in `n groot aantal kolleksies in Nederland opgeneem, onder andere die Stedelijk Museum, Amsterdam en Frans Hals Museum te Haarlem. In 1980 ontvang hy die Koninklike Subsidie vir Skilderkuns. Hy doseer vanaf 1987 beeldende kuns aan de AKI Academie, Enschede. Vanaf Maart tot begin Mei 2001 het sy eerste oorsigtentoonstelling met die titel Vaarwel Paradijs verskyn. Hierdie oorsigtentoonstelling se opening is beplan om saam te val met die Nederlandse Boekeweek, met die tema "Schrijven tussen culturen". As deel van die Boekeweek stel hy ook `n spesiale uitgawe bekend van sy Suid-Afrikaanse drieluik deur Podium Uitgewery.

Van Woerden skryf in totaal drie romans as `n soort drieluik oor Suid-Afrika: Moenie kyk nie (1993) (Van Nigh & Ditmaar), Tikoes (1996) (Balans) en Een mond vol glas (1998) (Podium). Die laaste roman se Afrikaanse vertaling het die titel Domein van glas (Quellerie, Kaapstad).

In sy skryfwerk kyk Henk van Woerden noukeurig met sy kunstenaarsoog en sien die tweestryd van die Suid-Afrikaanse landskap: die politieke omstandighede is `n ironiese belemmering van die pragtige natuurskoon. Van Woerden kyk in sy werk terug na sy jeugervarings en vergelyk dit met sy ervarings gedurende onlangse besoeke aan Suid-Afrika.

Van Woerden kyk al van kleins af krities met `n skilders- en skrywersoog. Sy debuut, Moenie kyk nie (1993), is duidelik `n outobiografiese vertelling van sy jeugervarings in Suid-Afrika. Die verteller se visie is dié van `n jong seun met `n glas oog — Van Woerden het op `n jong ouderdom sy linker oog verloor. Sy sensitiewe en noukeurige optekeningsvermoë met een gesonde en een glasoog word `n belangrike metafoor vir die manier waarop veral in sy debuut waargeneem word (Hoogervorst 81-88): die blinde (onbewuste, diep intuïtiewe, afstandelike) kant sowel as die sigbare (bewuste, sintuiglik oppervlakkige en nabye) kant, gee `n "tweespalt" in sy waarneming (Vergelyk Glorie 1999:106-110). Die tweespalt verwys gelyktydig na sy eie grensposisie as skrywer-tussen-kulture sowel as die gesplete omstandigheid in apartheid Suid-Afrika. Hierdie visie is egter nie "half" vanweë sy waarneming met net een oog nie. Van Woerden wil hierdie visie verhef tot `n skerper, gekonsentreerder waarneming as `n waarneming met twee oë:

Een gebrekkig ziend iemand geeft zich een verscherpt rekenschap van een mogelijke afwezigheid van het zien. De angst voor blindheid brengt een grote gretigheid met zich mee, een overmatige belangstelling voor de wereld om je heen. Daar werd ik me pas van bewust toen slechtziendheid in Moenie kyk nie een bruikbaar thema bleek te zijn. Ik constateerde dat iemand die slecht ziet onbewust een bepaald uitzichtpunt verkiest om het meest gunstige blikveld te hebben en daaruit stil en intensief alles in zich op te nemen (Berkvens-Stevelinck 1996:5)

Die titel van sy debuutroman, Moenie kyk nie, suggereer hierdie stil, intensief, maar ongemerkte manier van waarneem en opteken, `n teruggetrokke waarneming wat hom distansieer van die spanning in sy gesin sowel as in Suid-Afrika.

Moenie kyk nie (1993) vertel die verhaal van `n Nederlandse gesin wat hul gaan vestig in Suid-Afrika met die hoop op `n beter heenkome. Hierdie verhaal toon duidelike ooreenkomste met wat werklik in Suid-Afrika met hul gesin gebeur het. Kort na hul arrivasie het die gesin uitmekaar begin val: die ma is oorlede, die vader bemin hierna die een na die ander vrou van gemengde afkoms wat spanning veroorsaak, die hoofkarakter se jonger broer word as skisofrenies gesertifiseer, kortom: die hoofkarakter se huislike omstandighede was geen stabiele tuiste nie. Die hoofkarakter ontsnap hierdie omstandighede deur homself te verdiep in die waarneming van die omgewing. Met Moenie kyk nie teken Van Woerden die destydse omstandighede en omgewing van Suid-Afrika beeldend in woorde.

Die titel beklemtoon nie net sy teruggetrokke waarneming as buitestaander in sy gesin nie, dit beklemtoon veral dit waaroor geswyg moet word of as’t ware nie raakgesien moet word nie: naamlikdie toenemende politiese spanning in Suid-Afrika. Alhoewel die leser bewus is van die dreigende politieke ondertoon, word dit nooit direk benoem as die gevolge van apartheid nie, die woord "apartheid" word ook nooit in die boek aangetref nie. Suggesties van die politieke situasie in hierdie tyd in Suid-Afrika is wel duidelik aanwesig. Wanneer die hoofkarakter se broer, Hans, met `n swart meisie uit die Karoo, Toontjies, `n verhouding aanknoop sê sy aan hom: "Moenie vir my kyk nie". Hier bedoel sy dat hy haar nie moet aankyk soos die "wit boere" nie, dit wil sê haar tot objek van skaamte veroordeel in Suid-Afrika nie. Die strenge afkeur vir hierdie manier van kyk bied ook `n verklaring vir die gebruik van Afrikaans in die titel, waar die dubbele ontkenning as ’t ware die afkeur beklemtoon: "moenie kyk nie (eie beklemtoning)". Die ek-verteller sien die negatiewe uitwerking van apartheid en die verbanning van mense uit hul woonruimtes, hy besef dat hy voor geen keuse meer staan as om die land te verlaat en remigreer terug na Suid-Afrika aan die einde van die verhaal.

In Tikoes keer die verteller na `n aantal jare terug na Suid-Afrika waar hy gewoon het tydens sy jeugjare. Hy keer terug na `n sogenaamde "nuwe Suid-Afrika" om sy identifikasie met Suid-Afrika en houding teenoor die land te peil. Hy deel sy belewing van die "nuwe Suid-Afrika" met sy Duitse vriendin Tikoes, met wie hy pas `n verhouding begin het. In hierdie werk personifieer Tikoes Suid-Afrika as landskap. Hierdie parallel kan onder andere gemaak word deurdat haar liggaam in landskap terme beskryf word, bv.: "De glanzende stof hangt lossjes tegen Tikoes’ heupen, als een lome windvlaag teen heuvelen" (p138) Tikoes se liggaam word ook metafoor vir die ambivalensie van Suid-Afrika, vermink deur die gewelddadige politieke geskiedenis en terselftertyd die skoonheid self. Van Woerden en Tikoes onderneem `n reis deur Suid-Afrika en konfronteer die landskap hulle met die trauma en ongerymdhede in hul eie geskiedenis, sowel as die geskiedenis van Suid-Afrika.

Kronologies gesien kan mens wel redeneer dat Een mond vol glas (1998) wat verskyn het na Tikoes (1996) eerder ná Moenie kyk nie (1993) gelees kan word, omdat laasgenoemde teen die end die moord op Hendrik Verwoerd, die apartheid-argitek, aanroer en Een mond vol glas juis oor hierdie gegewe handel:

Dat het geen direkte politieke moord was, maar de daad van een dolgedraaide Griek, vinden ze [Nationale Partij] jammer [...] Hendrik Verwoerd is door een zekere Tsafendas met een broodmes (sic) door sy hart en hals (sic) gestoken (Moenie kyk nie 173)

4. Bloemlesingkeuse: Een mond vol glas

Een Mond vol glas is die sluitstuk van Henk van Woerden se drieluik oor Suid-Afrika. Hierdie laaste werk is volgens my die geskikste keuse om `n fragment vir die bloemlesing te neem, omdat Henk van Woerden hiermee `n groot bydrae lewer tot die herkonstruering van `n groot deel van die geskiedenis van Suid-Afrika en in die proses stem gee aan ontheemdes —hier in die besonder gee hy stem aan Demitrios Tsafendas, meer bekend as die moordenaar van die eerste minister Hendrik Frensch Verwoerd in 1966. Henk van Woerden vertel die lewensverhaal van Demitrios Tsafendas, beginnende vóór die moord op Hendrik Verwoerd. Naas hierdie verhaal word ook die belewenis weergegee van Henk wat terugkeer na Suid-Afrika — `n duidelike autobiografiese verwysing na Henk van Woerden self. Hiermee erken Henk van Woerden ook sy subjektiwiteit by die rekonstruering van historiese gegewens.

Een mond vol glas is geskep op grond van outobiografiese en geskiedkundige gegewens. Dit is `n monument van vernuftige en weldeurdagte navorsing oor onontginde geskiedenis rondom die lewe van Demitrios Tsafendas. Dit heropen die gesprek om `n duideliker beeld te kry oor die vrae wat destyds onbeantwoord gebly het. Van Woerden het tydens die skryf van Een Mond vol glas diepgaande ondersoek in die argiewe van Suid-Afrika gedoen om hierdie verhaal van Tsafendas te kon vertel, maar soos met elke ondersoek is nie ál die menings en materiaal ooit volledig beskikbaar nie en was hy in `n groot mate aan sy eie interpretasie oorgelaat. Die roman mond uiteindelik uit in die verrassende ontmoeting tussen die tagtigjarige Tsafendas en Henk die skrywer -`n werklike gebeurtenis.

Wat Van Woerden veral interesseer en motiveer het vir die skryf van hierdie boek is die feit dat Tsafendas van gemengde afkoms is — half swart, half Griek — en hierdeur uiters benadeel is in die apartheidsregime. Tsafendas is `n ontheemde figuur wat nêrens tuis of welkom was nie. Die verklaring van die moord was destyds sy psigiese versteurdheid, veral ook deur Tsafendas se opmerking na die moord dat `n lintwurm in hom vir hom opdrag gegee het om die moord te pleeg. Die verklaring is destyds voorgehou sonder om verder aandag te gee aan Demitrios Tsafendas die persoon en hoe hy die geskiedenis van Suid-Afrika drasties verander het.

Tsafendas se vader was Grieks en sy moeder — die diensmeisie (Amelia Williams) van sy vader — was half-Swazi. Hy is in Mosambiek gebore maar is op `n jong ouderdom na sy ouma in Aleksandrië gestuur nadat sy vader met `n jong Griekse vrou getrou het. Tsafendas se terugkeer na Mosambiek, omdat sy ouma te swak geword het om na hom om te sien, het baie aanpassing van hom verlang. Hy moes inpas in `n nuwe familie en in nuwe tale skoolgaan. Later is hy na die Transvaal (die huidige Gauteng) in Suid-Afrika gestuur om daar sy skoolloopbaan te gaan voltooi. Hy word in Suid-Afrika vir die eerste maal as kleurling uitgeskel: "You’re nothing but a lousy coloured"(53) - hiervan het hy niks begryp nie. Dit is eers in sy sewentiende jaar wat die waarheid rondom sy afkoms ontdek. Hierna het die opmerkings op skool en die weiering van die Ministerie vir Buitelandse Sake van Suid-Afrika om hom `n visa uit te reik vir hom begin sin maak— hy was onwelkom in Suid-Afrika in `n groot mate vanweë sy gemengde afkoms.

Tsafendas het hope weinig suksesvolle pogings aangewend om Suid-Afrika te besoek waarheen sy ouers na sy sewentiende jaar verhuis het. Tsafendas se swerwersbestaan het hier begin deurdat hy op skepe begin werk het. In sy rondreise tussen 1942 en 1963 het hy verskeie lande besoek, waar hy hy dikwel die reëls oorskry het: hy is vir onwettige verblyf vyf maal gearresteer, vyf maal gedeporteer, twee maal tronkstraf ontvang en is opgeneem in verskeie psigiatriese inrigtings.

Uiteindelik het hy dit reggekry om die grens van Mosambiek oor te steek en onwettig in Suid-Afrika te kom woon. Hy is na `n paar maande as `n posbode by die parlement aangestel. Dit is dan as posbode dat hy vir Verwoerd op 6 September 1966 om die lewe bring. Die psigiatriese eenman-ondersoek direk na die moord konstateer dat hy psigies versteurd was. Die vraag of hy politieke motivering gehad het is egter steeds onduidelik. Van Woerden beskou dit wel as `n politieke motivering in die sin dat Tsafendas eerstens gehandel het "uit die frustrasies van die bruinman" wat gebrandmerk is as ‘baster’ en objek van skaamte in Suid-Afrika (Wasserman) en tweedens dat dit die einde van apartheid beteken het, soos hy aan die einde van Een mond vol glas (ook opgeneem in die gekose fragment) verduidelik:

De aanslag op Verwoerd luidde het einde in van de doctrine van apartheid, van de idiotie die ‘angst voor rassenvermenging’ heette. En het betekende het aarzelende begin van integratie (202).

Van Woerden bevestig hierdie motivering van Demitrios vir die moord op Verwoerd net voor die uiteindelike ontmoeting van Tsafendas aan die einde van Een mond vol glas deur bv. sy gesprek met die sosiale werker wat nie kan glo dat Demetrios tot moord in staat is nie. Ook lê Van Woerden klem op die ontkennende bestaan van die kleurling en die frustrasies wat dit ontketen het. Van Woerden gee hierdeur `n eie interpretasie vir die motivering van Tsafendas se moord op Verwoerd Die drie vername verslae wat oor hierdie insident geskryf is (Scholtz 1967, Schoeman, 1976, Marais 1992) is verskillende interpretasies, maar spruit uit dieselfde ideologie van apartheid: die eerste twee is in die hitte van apartheid geskryf (1967,1976) en die derde in 1992 deur Jaap Marais, voorsitter van die Herstigte Nasionale Party wat sy regsheid en verdediging van Verwoerd en sy apartheidsregime duidelik laat blyk. Van Woerden het die innerlike teenstrydigheid van die verskillende verslae verwerk tot `n persoonlike interpretasie, wat ook spreek van `n politieke oortuiging: Van Woerden benader Verwoerd en die apartheidsregime aansienlik meer krities as die drie vername verslae en is daarom `n unieke toevoeging tot die interpretasies oor die moord op Verwoerd. In hierdie opsig verskil ek van Van Coller (146-148) wat die drie vername verslae oor dieselfde kamp skeer as Een mond vol glas sonder om in ag te neem dat Een mond vol glas, in teenstelling met die drie vername verslae, die eerste interpretasie is wat nie die hooffokus op Verwoerd plaas nie en krities staan teenoor Verwoerd en sy apartheidsidees. Die besluit om klem op die lewensverhaal van Tsafendas te lê is ook `n ideologiese daad van Van Woerden om kritiek te lewer teen die manier waarop Tsafendas in die geskiedenis van Suid-Afrika geen aandag ontvang het nie, al het sy daad groot gevolge gehad vir die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Veral die uiterse fyn lyn tussen feit en fiksie word in hierdie roman van Van Woerden ontgin. Henk, Tsafendas en Verwoerd is karakters en werklike figure. Die leser neem later aan dat Henk, Henk Van Woerden self is en dat die vertelling van sy eie ervaring tydens die ondersoek oor Tsafendas se lewe afgewissel word met sy bevindings. Van Woerden se betrokkenheid by die vertelling, s_ weergawe van die geskiedenis dus, word deur hierdie afwisseling beklemtoon. Hy wil hierdeur dit duidelik laat bly dat sy weergawe van die lewensverhaal van Tsafendas `n interpretasie is. Die "leë plekke" in die verhaal het hy met sy intuïsie ingevul om soos wat hy dit in sy "aantekeninge" agter in Een mond vol glas stel, "een verantwoordelijke mate van schijn" weer te gee. In die optekening van die geskiedenis kan die interpreteerder se betrokkenheid nooit ontken word nie. Die probleem is dat geskiedenis veral geskryf word deur diegene wat aan die mag is. Die geskiedenis van Suid-Afrika is geheers deur `n pre-okkupasie met suiwerheid en die mag om `n stelsel te handhaaf wat dit probeer verseker. Henk van Woerden vra, deur die situasie agteraf te beskou, "of de macht van de waanzin toen heel even gelijk was aan de waanzin van de macht" (202).

Die vraag wat Van Woerden uiteindelik vra is wat "gek" beteken in `n land soos Suid-Afrika, waar die grens tussen waansin en mag poreus begin raak het om `n stelsel te probeer handhaaf. Henk van Woerden het met hierdie werk gepoog om die psige van Suid-Afrika uit te beeld sowel as die algehele ontheemding van sy bewoners (Hoogervorst 88).

5. Een mond vol glas as deel van die koloniale diskoers

Wanneer Een mond vol glas deur middel van `n koloniale diskoers benadering gelees word, moet daar verskeie spanningsverhoudinge in ag geneem word. In die geskiedenis van Suid-Afrika was Suid-Afrika nooit werklik `n Nederlandse kolonie, in die ware sin van die woord, gewees nie. Nederland het `n sogenaamde ‘verversingspos’vir die skepe na die Ooste in Kaapstad gevestig, wat met verloop van tyd `n nedersetting vir setlaars geword het. Britanje was die eerste koloniseerders wat hul mag afgedwing het op die lokale bevolking. Met die Unievorming (1910) het Suid-Afrika hul tot `n groot mate van die Britse oormag bevry, maar `n verdeeldheid in die land het ontstaan tussen die Suid-Afrikaanse Party en die Nasionale Party betreffende hul teenoorgestelde houding teenoor die Britse regering. Die oorwinning van die Nasionale Party het verder beteken dat blankes en Afrikaans voorkeur bo ander tale sal ontvang. Binne Suid-Afrika self het daar tydens apartheid `n koloniale situasie geheers, waar die blanke regering op `n koloniale wyse oor die nie-blanke bevolking geheers het.

Die verbod op gemengde huwelike in 1927 (Immorality Act) het die begin van verdeeldheid tussen rasse finaal bevestig. In 1927 word Verwoerd ook professor in Sielkunde en Sosiologie by Stellenbosch Universiteit aangestel en tree op as `n voorstander van hierdie wet. Die wet is gesien as `n manier om veral die arm blankes te "beskerm" van "ondertrouery" wat as onnatuurlik en onsuiwer beskou is. Dit is as die oplossing voorgehou vir die ‘verbetering’ van die lot van die arm blankes. In die tydperk na die oorlog en depressie het veel blankes werklik in armoede geleef en was die hiërargiese status tussen blank en swart of bruin minder opvallend.

Om Verwoerd se apartheidsplan te laat werk was daar immigrante nodig om meer van die geskoolde arbeid te verrig en "ondertrouery" te verminder. Die Nederlandse regering het emigrasie aangemoedig en dit as noodsaaklik beskou om werkloosheid en oorbevolking te bestry. Suid-Afrika was vir aspirant Nederlandse immigrante voorgestel as `n soort avontuurlike eindbestemming met groot ekonomiese vooruitgang en moontlikhede. Terselftertyd was daar geen geheimhouding rondom die redes waarom blank Nederlandse nuwelinge tot die land nodig was nie: immigrasie vorm een van die instandhouders van die apartheidspolitiek. Blanke immigrasie is veral deur die destydse premier en argitek van apartheid, Hendrik Frensch Verwoerd, aangemoedig om die sogenaamde arm-blanke-probleem te verander. Verwoerd het besef dat om die apartheidsplan te laat werk en blank en nie-blank apart te kon hou, blank geskoolde arbeid dringend nodig was. Die konklusie van `n artikel in Die Transvaler uit 1961 stel dit soos volg:

Immigrasie aan die een kant en skeiding aan die ander kant — dit is die enigste manier om te verseker dat die Republiek van Suid-Afrika `n ware witmansland sal word (1961:115).

Hendrik Verwoerd se aanmoediging van blank Nederlandse emigrante om na Suid-Afrika te kom, is `n faktor wat die spanningsverhouding tussen Nederland en Suid-Afrika aangevuur het, omdat die Nederlandse emigrante as bedreiging vir die res van die Suid-Afrikaanse bevolking gesien is ten einde "die witmansland" te bewerkstellig:

Of ze het nu wilde of niet, het immigratiebeleid van Zuid-Afrika maakte dat Nederlanders die zich in het land vestigden een politiek doel dienden en daarmee werd de emigratie een politieke zaak. De toestroom van blanke immigranten hield de apartheidspolitiek in stand en in die zin was immigratie wel degelijk nadelig voor de niet-blanke bevolking. Nederlandse emigranten leken niet geneigd zich te ontwikkelen als tegenstanders van apartheid, het tegenovergestelde lijkt eerder het geval geweest te zijn (Van Putten, 1997:73).

Die spanningsverhouding tussen Nederland en Suid-Afrika was volgens Van Putten ambivalent: aan die een kant die felle apartheidsbeweging en aan de ander kant die apolitiese Nederlandse emigrasie beleid wat inwerklikheid deur die apolitiese aard daarvan immigrasie bly bevorder het en daarmee saam apartheid instand gehou het.

In Een mond vol glas word die ontheemding van die Nederlandse emigrante op `n manier verminder deurdat hul wel geag en welkom was in die land en nie soos die swart en bruin bevolking uit gebiede wat as blank gemerk is moes trek nie. Dit staan in kontras met die figure wat ontneem is van hul woonruimte as gevolg van die kleur van hul vel, die karakter en werklike persoon Demitrios Tsafendas en die Islamitiese winkeleienaar is voorbeelde van sulke figure in Een mond vol glas. Demitrios Tsafendas word by uitstek simbool van die ontheemde figuur.

Die identiteit van `n ontheemde figuur is volgens Van Woerden geleë in die geskiedenis van die "halwe", wanneer daar verwys word na iemand wat byvoorbeeld half-Suid-Afrikaans of Nederlands is. Van Woerden maak die verbindtenis met gemengde afkoms (van verskillende lande) en gemengde afkoms (van verskillende rasse). Beide word in Suid-Afrika as behandel as buitestaanders tot die land. In Een mond vol glas bevraagteken Henk sy identiteit as halwe Suid-Afrikaner of halwe Nederlander deur sy posisie te vergelyk met die twee ander seuns van emigrante, naamlik Verwoerd en Tsafendas:

Verwoerd was een buitenstaander in Afrika, een half-gebakken Hollander net als ik. De aanslag was een aangelegenheid tussen twee landverhuizers. Een halve Griek die een halve Nederlander vermoordde. Het antwoord van vele vragen schuilt in de voor-geschiedenis van dat ‘halve’(15).

Die voor-geskiedenis van daardie "halve", hou veral verband met die siening gedurende apartheid dat iemand van gemengde afkoms nie `n egte ras is nie. In die tyd van die opkomende nationalisme in Suid-Afrika het die modernistiese filosofie, wat destyds aan die ontwikkel was in Europa, die fokus geplaas op essentialisme en klassifikasie. Die sogenaamde visie van "die ander" is gebaseer op teenstelling, een óf die ander. Daar was dus geen ruimte vir gemengdheid in hierdie filosofie nie —gemengdheid is as onsuiwer of oneg beskou. Van daar dan ook die geheimhouding van Verwoerd se afkoms, omdat vele hom sou wantrou en in sy besluite twyfel as dit algemeen bekend was dat hy slegs "half" Suid-Afrikaans was:

Zijn [Verwoerd-RC] afkomst sou later, tijdens zijn parlementaire loopbaan, enigzins een tere plek worden, iets om niet te verbergen. Niet alleen de oppositie bromde bij gelegenheid dat hij geen Zuid-Afrikaan was, ook onder Afrikaners bleef hij voor sommigen ‘die Hollander’, of erger: ‘die uitlander’ (14)

Die siening van Verwoerd en Tsafendas se buitestaanderskap is `n voorbeeld van die binêr-opposisionle denkwyse, in terme van ek en ander. Dit hou verband met die "voor-geskiedenis van die halve" deurdat dit ook verwys na die ontwikkeling van die denkwyse rondom hibriditeit. Van woerden wys daarop dat `n half Suid-Afrikaner nie noodwendig verskil van iemand wat half blank, is nie, alhoewel hulle in Suid-Afrika verskillende behandeling ontvang het. Sigbare tekens van rassevermenging op iemand se gelaat is meer verafsku, omdat dit sigbare teken was in die tyd waar rassiale vermenging as onnatuurlik beskou is.

Hierdie beskouing verduidelik Robert Young in Colonial Desire: Hybridity in Theory, Culture and Race (1995) het uiteindelik resulteer in die essentialistiese (biologiese) denke wat deur Hitler en die Nazisme beargumenteer Die idee van verskillende rasse en dat hul apart benader moet word, is alreeds in 1799 beargumenteer, maar hierdie idees het met verloop van tyd ontwikkel tot die essentialistiese (biologiese) denke wat gemengdheid as onnatuurlik en gevaarlik vir die voorbestaan vir die volk beskou het. Young (8) verduidelik dat die grondliggende idees hieragter gegaan het oor `n pre-okkupasie met suiwerheid in terme van seksualiteit, d.w.s. wat ras-egtheid en `n goeie nageslag sou verseker. Die resultaat van hierdie pre-okkupasie het uiteindelik gelei tot `n geloof dat dit teen die natuur is om hibriditeit goed te keur — Young verduidelik hierdie resultaat volgens Hitler se Mein Kampf:

...in the chapter ‘Nation and Race’ in Mein Kampf , Hitler argues that Nature’s rule consists of ‘the inner segregation of the species of all living beings on this earth,’ and that where this is natural apartheid is infringed, Nature resists ‘with all possible means...and her most visible protest consists either in refusing further propagation to bastards or in limiting the fertility of later offspring.

Hitler het geglo dat gemengdheid, behalwe vir onreinheid of ‘bestialiteit’, ook `n onvrugbare nageslag kon beteken en dus `n gevaar inhou vir die toekoms van `n volk. Hierdie biologies-essentiële geloof het vele Nazi’s gedryf ter bewaring van die toekoms en suiwerheid van hul volk.

Verwoerd se blootstelling aan hierdie biologies-essentialistiese denke tydens sy studie in Duitsland voor die Tweede wêreldoorlog is hoogswaarskynlik. Sy besoek daarna aan gemengde gebiede in Kaapstad, Woodstock en Distrik Ses, het hom oortuig dat hierdie hibriede omgewing gevaar inhou vir die toekoms van "die blanke volk" en skeiding die oplossing is om dit te verhoed. Hy skryf geskok hieroor in die universiteitsblad:

Dikwijls vindt men dat blanken en kleurlingengezinnen samen in één huis wonen. Geen wonder dat de jonge Afrikaners er geen bezwaar in zien om te trouwen met hun vroegere [swarte] speelkameraadjies (Een mond vol glas 17)

Verwoerd wil met hierdie uitspraak laat sien dat Afrikaners `n gevaar loop om te begin ondertrou en dit as `n bedreiging gesien moet word vir die toekomstige suiwerheid van die Afrikaner volk en die voorsetting daarvan. Sy obsessie en aktiewe bemoeienis met ‘Die Volk’ het begin uit sy missie om die groot hoeveelheid arm blankes in hierdie gemengde gebiede se situasie te "verbeter". Hierdie "verbetering" het vir Verwoerd in feite beteken om "suiwerheid van ras" te behou deur huwelike tussen blank en nie-blank te bly verbied, groepsgebiedwette te begin instel en die idee rondom "natuurlike" tuislande te begin ontwikkel.

Hy was juis van plan om sy idees rondom die ontwikkeling van "natuurlike" tuislande te inisieer op die parlementêre sitting van 6 September 1966 toe hy deur Tsafendas vermoor is. Die moord op Verwoerd was `n vrees wat bewaarheid is —hy het `n paar maande van tevore `n aanslag op `n merkwaardige wyse oorleef. Verwoerd beskou hierdie oorlewing as `n Goddellike goedkeuring van sy werk. Die aanslag word uitgevoer deur `n ryk Engelse boer David Pratt. Hy het Verwoerd tydens `n landbouwtentoonstelling met `n klein kaliber pistool (.22!) twee maal deur sy hoof geskiet. Die skote het alleen Verwoerd se voorhoofholte skoongeblaas en hy het oorleef. Daar is in Londen deur anti-apartheidsbeweging geld ingesamel vir die verdediging van die regsaak van Pratt, maar hy pleeg selfmoord in `n psigiatriese inrigting in Bloemfontein nog voordat die regsaak kon plaasvind.

Van Woerden beklemtoon dat waansin `n belangrike deel vorm van die geskiedenis van Suid-Afrika. Die moord op Verwoerd staan hierin sentraal. Die ongeloof dat Tsafendas Verwoerd bloot in disillusie vermoor het, was ongeloofwaardig. Redes is gaan soek en sy politieke betrokkenheid is nagevolg. Die feit dat `n disillusioneerde Griek of ‘baster’ hom vermoor het, het vir veral die volgelinge van Verwoerd nie tevrede gestel nie

Die kernvraag wat Van Woerden teen die einde stel is: "Wie was er eigenlijk gekker geweest: Verwoerd of Tsafendas?" In die sin bedoel hy dat dit duidelik geword het hoe "gek" die apartheid sisteem was en Tsafendas se gekheid daarteen gerelativeer word. Van Woerden sien egter ook die ironiese raak dat die eertydse Afrikaner stamgevoel opgebou is uit dieselfde sentimente as wat Tsafendas gekoester het: "heimwee naar huis, zucht naar erkenning, een besef dat men te lang zwervende in de woestijn was geweest, afgesneden van oorsprong, van zuiverheid en van de ‘echte’ wereld"(202). Die konstante dreiging van ontheemding deur koloniste of enige ‘vreemde’ wat hul kan roof van land en taal lê diep gewortel in Afrikanersentimente as gevolg van hulle lang geskiedenis van veg vir erkenning, eie grond en identiteit.

Van Woerden wil in Een mond vol glas juis nie slegs die verhaal van die blanke "Afrikaner" vertel nie, maar die lot van die kleurling, die sogenaamde "half-bloed" beklemtoon. Deel van Tsafendas se motivering, redeneer Van Woerden, het gespruit uit die "frustrasies van die bruin man" in apartheid Suid-Afrika se frustrerende gevoel van identiteitloosheid — die kleurling het nie ingepas binne die tweedeling wit of swart nie en is in terme van nie-swart óf wit nie gedefinieer as: die uiteindelike hibriede resultaat van vermenging tussen blank en swart, wat beskou is as ‘product van bestialiteit’ en ‘het vleesgeworden bewijs van de blanke verdorvenheid, een wandelend schaamteobject’ (201).

Wat Van Woerden dan uiteindelik laat sien is die groot invloed wat "gekheid" in die geskiedenis van Suid-Afrika speel. Hy merk op dat die grens tussen waansin en mag poreus begin raak het om `n stelsel te probeer handhaaf. Hy sien die belemmerende gekheid van die lewe in Suid-Afrika wat bestaan uit `n skisofreniese angs tussen ontkenning en erkenning. Henk van Woerden het met hierdie werk gepoog om die psige van Suid-Afrika uit te beeld sowel as die algehele ontheemding van sy bewoners (Hoogervorst 81-88)

  1. Bloemlesingfragment uit Een mond vol glas
  2. In die keuse van `n fragment was dit my oorweging om `n stuk te kies waarin Van Woerden se argument ten op sigte van die motivering vir die moord op Verwoerd, Tsafendsas se situasie voor en na die moord én die implikasie van Verwoerd se moord aan bod sou kom. Ek het besluit om die fragment te kies uit die laaste gedeelte van die roman net voor die beskrywing van Henk van Woerden en Tsafendas se ontmoeting in Sterkfontien hospitaal vir geestelikversteurdes om sodoende hierdie aangrypende einde vir die potensiële leser te bewaar.

    Van Woerden kyk in hierdie gekose fragment terugskouend na die ontstaan en uitwerking van apartheid en gee duidelik sy interpretasie van die moontlike motivering van Tsafendas om Verwoerd te vermoor: dat hy grootliks gereaeer het uit die frustrasies van `n persoon van gemengde afkoms. Hy gee dan duidelik ook `n verduideliking van die redes vir die frustrasies, waarvan die hoofrede is dat dat diegende van gemengde afkoms nie voor plek gemaak is in Suid-Afrika of in die geskiedenis van Suid-Afrika (dit sluit in migrante en diegende uit gemengde ras).

    In die gekose fragment verduidelik Henk die invloed van sy eie posisie in Suid-Afrika naas dié van Verwoerd en Tsafendas. Dit gee `n beeld van die kompleksiteit van die geskiedenis van Suid-Afrika en verduidelik die belang om die verhaal van Tsafendas by die geskiedenis van Suid-Afrika in te reken omdat hy die koers daarvan verander het. Hy verduidelik dit deur `n bepeinsing oor die invloed van die biologies-essentialistiese idees en die moord op Verwoerd as die markering van die einde van apartheid en die stadige begin van integrasie.

    Die vraag bly egter steeds waarom Tsafendas nie meer geëerd is in die geskiedenis van Suid-Afrika nie. Die verklaring hiervan volgens Van Woerden lê in die houding van die ANC. In Nelson Mandela se Long walk to freedom skryf hy: "Political assassination is not something I or the ANC have ever supported"(1994:417) Tog is daar gedurende die demonstrasies van 1976 geskree: "TSAFENDAS INYANGA YEZIZWE [Tsafendas healer of the nation]" (Sien <http://www.mathaba.net/www/black/dimitri.htm>). En moet mens wonder waarom Tsafendas vir vier jaar lank elke dag gemartel is in Pretoria sentraal, opgesluit is waar die doodstraf toegepas is, maar nooit ter dood veroordeel is nie; waarom sy versteurdheid deur Dr Kossew, Kaapstad se distrik-chirurg as "schizofrenie van die hoogste graad" beskryf is, "maar nie sertifiseerbaar" nie. Dat Tsafendas versteurd was, is duidelik te sien in die onderhoude wat Van Woerden met hom voor sy dood gehad het, maar die graad en datum van die aanvang van hierdie versteurdheid bly egter onseker.

    Wanneer Regter Beyers weier om hom te verhoor met die uitspraak dat hy net sowel dan `n hond kan verhoor, is Tsafendas finaal van sy menslikheid beroof (Beresford 1997-13-10). Van Woerden gee aan Tsafendas sy menslikheid terug deur sy lewensverhaal te vertel en dit by te voeg in sy interpretasie van die geskiedenis.

  3. Van Woerden as deel van die bloemlesing

Dit is duidelik dat Van Woerden in hierdie bloemlesing hoort: Van Woerden woon vir byna dertien jaar in Suid-Afrika, skryf `n drie-luik oor Suid-Afrika en is baie betrokke met die belang van navorsing oor Suid-Afrika, veral vanaf `n Nederlandse perspektief. Met Een mond vol glas lewer Van Woerden `n belangrike bydra tot die geskiedenis van Suid-Afrika, spesifiek betreffende die aanslag op Verwoerd en die belangrikheid van Tsafendas se daad in die geskiedenis van Suid-Afrika. Van Woerden maak `n historiese herkonstruksie en ondersoek en verwerk die destruktiewe gevolge van apartheid Suid-Afrika krities —wat Van Woerden beskryf as "`n poging tot anamnese" (Wasserman).

Van Woerden is die eerste skrywer wat Tsafendas se regmatige plek in die Suid-Afirkaanse geskiedenis laat sien en `n belangrike verband trek tussen apartheid en die Nederlandse emigrasie na Suid-Afika. Sonder Van Woerden sou die bloemlesing onvolledig wees om `n beeld van Nederlandse Zuid-Afrikaanse literatuur te gee.

Bronnelys:

Beresford, D. 1997. "He has not the mind of a dog". Mail & Guardian, October 13.

Berkvens-Stevelinck, C. 1996. "Een poging het zwerverschap te beschrijven". Adrem. julie, p5-6.

Bloem, H.C. 1949. "Voorwoord" in: Een Hollandse Familie in Zonnig Zuid-Afrika. Amsterdam: J.H. de Bussy

Bosch, B.J. In Den.1957. De Aanpassing der Nederlandse immigranten in Kaapstad en Pretoria 1952-1956, p153 Deel I

J.C. In den Bosch. 1956. De Aanpassing der Nederlandse immigranten in Kaapstad en Pretoria 1952-1956, p153. Deel I

Etty, Elsbeth.1998. "Ons woon in `n vormlose land".NRC Handelsblad: Boekenblad. 27-11-1998

Glorie, I. 1993. "Nathan Sid in Kaapstad". Vrij Nederland.20 November.

Glorie, I. 1999 Tydskrif vir Letterkunde nr 37, Afl 2, Mei p106-110

Hoogevorst, I. 2000. "Henk van Woerden". In: Vreemdeling in eie landskap.p.81-88

Jonckheere, W. 1999. Van Mafeking tot Robbeneiland. Zuid-Afrika in de Nederlandse literatuur 1896-1996. Nijmegen: uitgeverij Vantilt.

Marais, J.A. 2001 "Linkse Nederlander en Afrikaanse vertaalster wil Verwoerd die misdadiger en Tsafendas die slagoffer maak!" 23 Mei.<http://www.hnp.org.za/afrikaner/mei2k1/art.htm>

Moumbaris, A. "Homage to Dimitri Tsafendas" 28 Mei 2001. <http://www.mathaba.net/www/black/dimitri.htm>

Standard Encyclopaedia of Southern Africa. 1971. D.J. Potgieter (ed. in chief) Cape Town: Nationale Opvoedkundige Uitgewery.

Van Coller, H. 2001. "Proewe van `n rekonstruksie: Een mond vol glas deur Henk van Woerden" Literator 22 (1) April. 137-154

Van Kempen, Yves. 1996. De Groene Amsterdammer, 8 mei.

Van Putten,1997. Een emigratieland apart? Het Nederlandse emigratiebeleid ten aanzien van Zuid-Afrika. Leiden Universiteit: Eindscriptie

Van Woerden, Henk. 1994 (1993). Moenie kyk nie. Amsterdam. Nijgh & Van Ditmaar.

Van Woerden, Henk. 1996. Tikoes. Amsterdam: Balans

Van Woerden, Henk 2001(1998). Een mond vol glas. Amsterdam: Podium.

Wasserman, Herman 2000. "Tsafendas se storie is te lank weggesteek, sê Van Woerden" Die Burger, Maart 25.

Young, Robert.1995. "Hibridity and Diaspora".Colonial Desire:Hybridity in Theory, Culture and Race. London / New York: Routledge.

? 1961. ‘Immigratie in wetgeving en pers’ Zuid-Afrika. Maandblad van de Zuid-Afrikaanse Stichting Moederland voor de culturele en economische betrekkingen tussen Nederland en Zuid-Afrika 38, p115


Continue


Terug naar de Bloemlezing Zuid-Afrikaanse literatuur
Terug naar de thuispagina van de Opleiding Nederlands